Een biljoen jaar JAAR n.C.
Dr. Charles F. Stofberg
Published by THOMPSON UITGEWERS (998) at Smashwords
Copyright 2012 Dr. Charles F. Stofberg
Cover Copyright 2012 Gerrit van Dijk
First edition: February 2012
ISBN: 978-986-08464-2-3
This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be re-sold or given away to other people. If you would like to share this ebook with another person, please purchase an additional copy copy for each recipient. If you’re reading this ebook and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then please return to Smashwords.com and purchase your own copy. Thank you for respecting the hard work of this author.
Hierdie e-boek is gelisensieer vir u persoonlike genot en mag nie herverkoop of weggegee word aan ander mense nie. As u hierdie e-boek graag met ander wil deel moedig ons u aan om asseblief ‘n ekstra kopie te koop vir elkeen van hulle. As u hierdie e-boek lees en u het dit nie gekoop nie, vra ons u om Smashwords.com te besoek en u eie kopie aan te koop. By voorbaat dankie dat u die harde werk van die skrywer respekteer.
Outobiografie
Ek, Charles Frederick Stofberg is op 18 Oktober 1956 in Pretoria gebore as deel van ‘n tweeling (my suster Hettie). Ek word Charles genoem – ‘n regte Engelse naam vanweë my voorgeslagte. Majoor HD Warden (na wie die dorpie Warden in die Vrystaat vernoem is), se vader Charles Frederick Warden (eers Stuart) (‘n buite-egtelike kind van Bonnie Prins Charlie van Skotland) was deel van my direkte voorgeslag. Die “Stofberge” kom van Holland af.
Ek het in Pretoria in die voorstad Capital Park grootgeword. Soos die meeste Mootkinders het ons dit ook nie breed gehad nie, maar ook nie sleg nie. Ek gaan na die Laerskool Genl. Jacques Pienaar in Capital Park. Ek en my tweelingsuster was altyd in die “A” klas en altyd saam tot in matriek! Ek kan my jeug so opsom: “al my dae was groen en vol sonskyn.” My moeder, Elma, se vader was ds. prof. C.F. Kies van die teologiese fakulteit in Stellenbosch en sy het gesorg vir ‘n deeglike en streng NG-Kerk opvoeding. My vader, Nick het elke jaar gesorg dat ons die Desember vakansie op Hartenbos kon hou – sedert 1960. In 2006 het ons hier ‘n vakansie-woonstel gebou waarnatoe ons (vrou en die 3 dogters) nou elke Desember gaan. In st. 4 (1968) skryf ek my eerste storie van so 30 bladsye, maar voltooi dit nie.
Ek matrikuleer in 1974 aan die Hoërskool Langenhoven in Pretoria met ‘n redelike gemiddeld. Ek het vir die eerste span rugby gespeel. Ek het ook graag yshokkie en pluimbal gespeel.
Daarna (1975) begin ek by die Dept. van Gesondheid te werk. Junie 1975 gaan ek na die Lugmag in Valhalla vir diensplig tot Julie 1976. Daarna is ek terug by Gesondheid, maar werk toe in Ga-Rankuwa hospitaal in die admin. afdeling.
In 1977 skryf ek by Tukkies na-ure in vir die BA graad. In 1977 gaan ek saam met die Tukkie-toer Europa toe met vakansie. In 1978, na ek bedank het, word ek voltydse student en behaal my graad in 1979.
Met Geskiedenis en Sielkunde as hoofvakke begin ek in 1980 by die Staatsargief in die Uniegebou in Pretoria as argivaris te werk. In 1980 (Desember) besoek ek weer Europa op ‘n private toer saam vriende in ‘n Camper. Ek voltooi my eerste Comrades in 1982 en ook my BA (Hons.) Geskiedenis by Tukkies in dieselfde jaar as deeltydse student. In dié tyd skryf ek my eerste wetenskapfiksiestorie maar word nie gepubliseer nie.
In 1984 word ek na Johannesburg verplaas waar ek die Tussenbewaarplek JHB stig. Na twee jaar se pendel met die trein JHB en terug en boonop die huispaaiement van my eerste huis in Suiderberg (Pretoria) was dit vir my te veel en ek bedank in Aug. 1986.
In dié jaar begin ek by Krygkor as argivaris te werk. (In 1985 voltooi ek my tweede Comrades marathon). Einde 1988 kuier ek in die Verre Ooste. Die tyd skryf ek my tweede boek maar weer sonder sukses. Toe spits ek my toe op studies en voltooi my Hoër Diploma in Argiefwetenskap by Technikon SA in 1989. In Januarie 1989 ontmoet ek my aanstaande vrou by Krygkor en ons trou in Feb. 1990. Sy is van Hollandse afkoms met die mooi bynaam; Mieke. Ons gaan woon toe in Sinoville (Pretoria) maar bly hier net ‘n jaar en trek na die ooste van Pta. Waar dit koeler is.
Terwyl ek by Krygkor is begin ek met navorsing oor Krygkor se geskiendenis. Ek behaal die MA-graad by Kovsies in 1991 met die verhandeling: Die geskiedenis van die Raad van Verdedigingshulpbronne en die Krygstuigproduskieraad as voorlopers van Krygkor, 1948 tot 1966.
In Sept.1991 is ons eerste kind, Annemieke gebore. Na my aflegging by Krygkor in 1992 kry ek werk by die Weermag-Argief. Ek word as Kaptein aangestel en spring toe so in rang van ‘n Weerman (diensplig jare) na ‘n Kaptein! Hier werk ek vir ses maande en einde 1992 vertrek ons na Chicago in die VSA. Ons begin die maatskappy “StudyTech” en leer studente versnelde leermetodes. Ons bly in die dorp Schaumburg. Na die maatskappy tot niet gegaan het en ons allerhande stukwerk moes doen, keer ons in Julie 1994 terug na Suid-Afrika. Ons tweede dogter, Melissa is in Amerika gebore – Maart 1994.
Ek begin toe by Telkom in Aug. 1994 as argivaris te werk. In die tyd begin ek met “Brug na Eden”, my derde boek. Dis weer ‘n wetenskapfiksie boek. Dit was oor die 1000 getikte bladsye toe ek klaar was. Ek het dit na Van der Walt uitgewers (later Lapa) geneem wat dit uitgegee het Aug. 2000. Daar is 3000 eksemplare gedruk en alles is na ‘n paar jaar verkoop. (Dit was LAPA se keuseboek van die maand en daarom die groter oplae as gewoonlik). In 1995 bou ons ‘n huis in Erasmuskloof in Pretoria. In Okt 1997 word my derde dogter, Chané gebore.
Ek voltooi in Maart 2000 my D Phil et Lit graad by UNISA m.b.t die geskiedenis van Telkom. Die Geskiedenis van die Poskantoor met spesifieke verwysing na sy interne en eksterne probleme, en die rol van telekommunikasie-ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse samelewing, 1945 tot 1968. Ek hanteer ook Telkom se biblioteek vanaf Maart 2000.
Ons stig in 2000 ‘n ATKV-skrywerstak met ek as voorsitter en gedurende die tyd skryf ek ‘n aantal kortverhale vir Huisgenoot en die TG. Die tak het ‘n paar jaar bestaan. (Ek begin weer werk aan ‘n wetenskapfiksieboek maar die een maak dit ook nie). Hierna begin ek my weer toespits op draf en voltooi Comrades in 2004 en 2007. Ek wen ook ‘n aantal eerste plekke op ‘n aantal wedlope en is die Klub, Irene, se “Meesteratleet van die jaar” vir 3 jaar na mekaar.
Ek lees graag, soos alle skrywers. Ek het geen voorkeure nie, maar tans lees ek baie wetenskaplike tydskrifte. Ek skryf soms vakkundige artikels vir die Nasional Argief se vaktydskrif: Argiefnuus en talle briewe vir die koerant (Beeld). Ek is ‘n aantal kere genooi om ‘n aanbieding oor een of ander vakaangeleentheid op seminare te doen. Ek skryf die laaste paar jaar speurverhale – dus ‘n nuwe genre wat ek betree. (Ek het ook my eie outobiografie van 160 bladsye geskryf en vir die kinders – tot hul groot vermaak - gegee om te lees).
Dr. Charles F. Stofberg
2011-06-07
Outeur se aantekeninge
Sedert die Kambrië-periode, 590 miljoen jaar gelede was daar periodiek gevalle waar spesie heeltemal uitgewis is, soos die dinosourusse. Met die Toba-vulkaanuitbarsting, 73 000 jaar gelede het die menslike bevolking tot slegs 10 000 geval, en 25% van die plantegroei is vernietig. Dit het my laat wonder wat sal gebeur as ‘n situasie sou ontstaan waar die menslike spesie uitgewis sou word, en van vooraf weer moes ontstaan en ontwikkel. Sou die evolusionêre pad dieselfde wees as wat dit met ons, die Homo Sapiens was? Dit is ‘n idee waarop miskien slegs die Skepper ‘n antwoord op sal hê. Sal Homo Sapiens weer uit ‘n enkel sel ontwikkel, of sal ander vorme van lewe intelligensie ontwikkel? Soos in die boek na vore kom, glo ek dat God se beeld bly voortleef.
Sal die fauna ook oor die enos verander soos die onys, ʼn dier wat uit die leeu ontwikkel het, die dinosourus tipe blast wat uit die olifant ontstaan het, of ‘n insek soos die deisa, ʼn gevaarlike bloedsuier? Dit alles sou miljoene jare duur – tyd wat alle spore van Homo Sapiens I sou uitwis, tensy dit versteen het. Teen die tyd het die groot Slenkdal die oostelike deel van Afrika van die kontinent afgeskeur wat – wat hoë afgronde en rotse nagelaat het. Die plek by die see waar AB sy seuns gewaarsku het om nie te speel nie. Dis die deel van Afrika waar ontwikkeling skaars plaas gevind het, sodat Homo Sapiens II byna nooit enige versteende artefakte sou ontdek nie.
Wat sou die nuwe spesie doen as hulle gefossileerde skrif ontdek? Dat die mens in die tyd van die dinosourusse reeds geleef het en intelligente wesens was wat kon lees en skryf – dus in die Mesosoïese era. Daar is baie gerugte van versteende menslike voetspore wat saam met dinosourus spore in klip gevind is. Dit sal dieselfde wees as ons vandag so iets moes ontdek – bloot ongelooflik.. En wat van die homoseksuele samelewing? Enigiets is in die toekoms moontlik.
Proloog
‘n Handvol Blou Lug
Tabi staar droomverlore by die venster uit, maar in haar staar sien sy niks want sy dink aan ʼn duisend dinge. Sy voel soos ʼn slaper wat hom moeg geslaap het en ʼn stapper wat hom moeg geloop het. Hier, voor haar lê die oop vlaktes, wyd en ver asof ʼn mens die land met ope arms kan ontvang. Daaroor mirage die velde soos golwe in ʼn stormagtige see. Dis warm, stowwerig en droog. Die landskap is ru gevorm, asof die Skepper dit nie klaar gemaak het nie. Dis is dié tyd van die jaar, voor die reënseisoen lelik, godverlate, droog en ironies genoeg ook steriel. Nêrens ʼn beweging nie. Maande se stof lê opgehoop - wagtend vir die reën. Die stilte is hoorbaar om haar gevou. Net veraf kwê ʼn loerie, en dan sterf dit ook weg.
Die stilte dreun in Tabi se kop en die hitte maak haar tam, hoewel dit in hierdie gehuggie, Lurio nie so warm is nie as in Maputo, waar sy vandaan kom. Uiteindelik besluit Tabi dit is die skoolgeboutjie, en nie soseer die omgewing wat so warm is nie. Die sinkdakskooltjie van Lurio is naby die dorpie Lioma, tussen niks en nêrens aan die voet van die hoë Namuli-berge, geleë. Die skool is die middelpunt van Lurio - wat die inwoners so noem omdat ʼn sytak van dié groot rivier digby verbystroom. Snags hoor sy die rivier struikel en val soos dit oor die klippe stort, oppad na sy onbekende einde iewers in die Indiese oseaan. Maar vandag is hy stil en klein omdat sy voeding opgedroog het. Afwagting. Ver weg is ʼn paar onbelangrike wolkies te bespeur. Dit draai los in die vaal-blou stof bevlekte lug. Haar oë trek traag oor die horison. Sy staar na die verlange wat daar agter lê, wat verlore geraak het in die werklikheid van ʼn privatiewe skool , ʼn paar kinders en die hitte.
Sy was gelukkig om die onderwyspos hier in die noord-ooste van Mosambiek te kry. Die pandemies het al nader aan hulle gekruip. Vir eers was die inwoners en die omgewing “skoon”, maar Tabie weet diep binne haar dis net ʼn kwessie van tyd, dan is al die pandemies en die gevolge daarvan met hulle.
Tabi kan bly wees sy het hierdie pos gekry. Dit was ten minste ʼn kans om van Maputo af weg te kom. Die groot pandemies het sy tentakels na Maputo begin uitsteek. Dit het haar voortgedryf - die ongekende, halsstarrige vrees, asof die digte bosse van die afgeleë deel van Mosambiek meer beskerming sou bied. Sy moes eenvoudig wegkom as sy nog ʼn rukkie langer wou leef.
Die hitte is drukkend. Dit bou al lankal so op, elke dag ʼn bietjie meer en meer. Op die interaktiewe Internet het sy die Weerkantoor gepeper met vrae oor die tropiese sikloon wat besig was om in die Mosambiekkanaal af te beweeg. Swaar neerslae word binnekort verwag, was al antwoord wat sy uit hulle kon kry. Maar wat sal al die baie reën help as dit nie die gesaaides gaan baat nie. Die geneties-gemaunipuleerde gewasseprogramme het lelik skeef geloop – soos baie ander dinge vandag. In stede daarvan, en met goeie bedoelings van die wêreld se voorste biotegnoliste om die arm ou Derde-wêreld lande te voed, het dit ongekende hongersnood wêreldwyd gebring. Dit het baie jare gelede reeds ʼn ramp voorspel toe geen-merkers in die DNS van GG-plante weerstand teen antibiotika tot gevolg gehad het. Oral het miljoene begin gesterf. Oral wag miljoene nou om te sterf...
Tabi loer onderdeur na die kinders wat doodstil sit en aan die eksamenvraestel werk. Sy wonder hoeveel gaan dié termyn slaag, en of dit nog enigsins ʼn doel dien. Met die pandemies is dit nie die moeite werd nie. Dit voel vir haar asof alles tevergeefs is. Sy wens sy kan weer die dae terugkry soos voor die pandemies. Die tye toe sy en Timothy saam was. Die naam alleen bring vir haar rillings van klein plesiertjie. Hoe was die eindelose nagte nie saam met hom nie. Toe hulle nog vol planne en drome was. Toe hulle saam ʼn blink toekoms te wagte was. Vir sy firma moes hy baie rondry en dit was hoe hy die pandemie se ander “siekte” opgetel het. Hy het eers begin gewig verloor en na ʼn paar maande was hy so skraal en maer dat sy hom skaars geken het. Toe gebeur alles vinnig. Eers longontsteking, toe nier- en hartversaking en toe die dood. Dit was verskriklik om hom so te sien ly – soos die miljoene ander om hulle elke dag agteruit gegaan en gesterf het.
Dis toe dat sy "gevlug" het. Sy kan bly wees sy is in daardie tyd nie aangesteek nie. Toe het hulle nog nie besef hoe vinnig die nuwe gemuteerde virus kon versprei nie. Soos verkoue deur hoes of nies versprei, so het die nuwe virus, MII, aangepas en versprei. Dodelik. Onstuitbaar. As jy in sy pad kom, kry jy hom en geen medisyne, inenting of wat ook al kan jou help nie. Net jou liggaam se teen-liggaampies kan jou red, maar die MII-virus vernietig juis alle teenliggaampies.
Die magdom inligting op die wêreld se netwerke vir die DNS-volgorde van die eens gevaarlike virusse soos die Polio-, Vigs- en Ebola-virus, het iewers in ʼn groep psigopatise-terroriste se hande beland. Die virusse was lank reeds uitgewis gewees, maar deur eenvoudig sleutel-gene tot die Vigs- en Verkoue-virus by te voeg is MII van niks af opgebou en vrygestel deur hierdie siek, korrupte groep mense.
Vir ʼn oomblik wonder Tabi of hulle kon voorsien wat hul beplan het. Gedink dit sou net lokaal ʼn effek gehad het – op die groep mense wie hulle wou bykom, en toe is die uiteinde ʼn wêreldwye vernietiging. Net die diere word gespaar omdat dit nie inter-spesie oordraglik is nie. Goed vir hulle, maar wat van die mense wat agterbly? Wonder bo wonder het die MII-pandemie nog nie by hulle uitgekom nie, maar wat die gewasse betref, was alle tekens reeds daar. Met die droogte en die mislukte oeste staar hulle nou hongersnood in die gesig. Wanneer laas het sy goed geëet? Sy is knaend honger. Gits, hier lewe hulle reeds van die veld.
Tans geniet sy die ekstra dae op haar lewe in die boendoes. Almal in Lurio is goed vir haar – die spul oumense waardeer die feit dat sy met haar mooi Engelse aksent en goeie maniere vir die paar kinder in dae soos dié nog iets kan beteken. Tabi glo egter vas dat die dorpie, wat meestal net uit oumense bestaan, nie werklik besef wat aan die gebeur is nie. Met die VN-nuus se propaganda oor satelliet-televisie word nie die volle waarheid vertel nie. Dit kry sy oor die Net., waaraan die oumense hul nie veel steur nie.
Tabi trek die volgende stapel skryfboeke nader. Buite het die sonbesies effens verpoos. Die skool se paar kinders sit kopomlaag en skryf vir ʼn vale. Hulle wil nie die nuwe juffrou teleurstel nie. Tabi gaan staan vir ʼn oomblik by die oop deur en betrag die wêreld. Die wind het opgekom en roer die boomtoppe heen en weer. Veraf ruik sy reën. Dan gaan haar oë oor die klein klassie. Met die vervangingskoers van slegs 0.8 kinders per vrou, het Mosambiek se bevolking reeds, van ʼn paar geslagte gelede se hoogtepunt van 65 miljoen tot 5.5 miljoen gedaal. Kinders is so skaar soos hoendertande.
Buite het die lug meteens donker geword en ʼn paar wolke kom dreigend aangerol. Toe wip sy soos sy skrik. Asof uit die blou hemel slaan ʼn bliksemstaal woedend die slapende aarde om haar wakker. So, die weervoorspelling was dus reg, glimlag sy stil. Die kinders agter haar raas skielik soos elkeen kommentaar gee op wat gebeur.
"Stilte. Stilte. Ek wil geen gepratery hê nie. Toe, toe, op julle plekke en gaan aan met jul werk. Maak gou, julle kan sien hoe laat dit is... dit lyk of ons gaan reën kry, miskien ʼn harde bui. Gou, julle by die venster maak dit toe, voordat ons wegspoel," beveel sy hulle. Vinnig vlieg die helfte van die klas op en haas hul na die vensters. Die reën val skielik hard en raas op die sinkdak soos duisende klein klippies wat ʼn vragmotor daarop afgooi. Sy beduie hulle om weer te gaan sit.
Terwyl sy in die semi donkerte voortgaan om hul vraestelle te merk, skud sy onbewustelik haar kop. Vanoggend se vraestel was so maklik, hulle kon almal volpunte gekry het. Wie was die eerste man op die maan? Wat was die ruimtetuig se naam? Wanneer het dit plaasgevind? Net ʼn paar eenvoudige vragies oor die eerste maanreis en hulle het dit verkeerd. Half moedeloos trek sy die teksboek nader en lees die gedeelte oor die maansending. Mm, dit bly merkwaardig, en om te dink die mens kon dit toe reeds met sulke privatiewe ruimtetuie regkry. Niks om met die Upsila-projek te vergelyk nie. Dis die enigste klein ligpunt in die mens se donkerste uur. Dié massiewe groot interster-ruimteskip wat pas die Kuiper-gordel verbygesteek het – biljoene kilometer ver. Angstig het hulle deur die jare die bou en vertrek van die Upsila gevolg. Hoe dit verby die lewelose planete en mane soos Mars, Europa en Titan verbygespoed het. Verby die planete waar die ou kolonies misluk het. Sy verstaan nie al dag die tegniese beskrywings en terminologie nie, maar dit het daarop neergekom dat lewe op daardie planete met hul beperkste bronne nie meer moontlik was nie.
Wanneer het dit regtig alles begin? Met die ontdekking van die drie planete van die son Upsilon Andromedae in laasgenoemde konstellasie? Of toe die “Allen Telescope Array” dekades gelede begin funksioneer het en daar stelselmatig ander planete ontdek is. Tot die dag wat die Upsila na een van die naaste lewegewende planete in die Melkwegstelsel gestuur is. Daar was nie veel sodanige planete in ons galaksie nie, en die naastes was ʼn paar duisend ligjare weg. Maar dis gedoen en die paar duisend mense aan boord van die grote Upsila is reeds buite die sonnestelsel op weg na ʼn nuwe lewe.
Tabi laat haar kop sak. Ja, die Upsila is blootgestel aan baie gevare, maar wat op aarde nou aant’e gebeur is, is nie te vergelyk nie. Wie het MII verwag.
Dit reën nog aanmekaar, en grootoog kyk Tabi deur die oop deur, oor die kort stoep na die strome water wat onophoudelik op die geboutjie neersif en oor die speelgronde wegspoel. Wat ʼn storm, wat ʼn lafenis. Dit is beslis nie net ʼn vinnig somerbui nie, moontlik is dit die voorloper van die sikloon wat besig is om hulle te tref.
"Julle sal moet wikkel. Ek weet nie hoe lank hierdie reën gaan aanhou nie," vernaam sy hulle. Gelukkig begin van die kinders klaar maak, en een vir een maak hulle hul vraestelle toe en bring dit na haar. Dit is sulke jong lewenslustige vriendelike kinders. ʼn Mens kan hul amper nie met ʼn donker toekoms assosieer nie. Moet die siektes en hongersnood hulle ook afmaai? Dis ondenkbaar siek.
Drie dae later reën dit nog aanmekaar. Die riviere is vol en vir die huidige is Lurio van die buite-wêreld afgesny. Dít kom hul skaars agter, want vir alle praktiese doeleindes is hulle in elk geval van alle groot dorpe afgesonder. Sedert die siekte na naby geleë Nampula versprei het, kom bitter min voorrade meer by hulle uit. Sy hoor die dorpsmense praat van oorstomings oral om hulle. Die paaie is geheel en al onbegaanbaar. Saans praat sy oor die Net met die Weerkantoor in Geneva, maar vir die nabye toekoms word nog reën voorspel. As dit maar net wil ophou, as die epidemie wil weggaan, as die plante weer groei! As dinge weer kan wees soos dit was.
Dis met sulke droewige oomblikke dat sy wens sy was tuis in Maputo. Tuis waar Timothy nog gelewe het. Tuis in sy warm, sterk arms. Sy is naby aan trane en weet as sy langer haarself gaan bejammer, huil sy nog regtig. Die lewe is nie meer mooi nie. Haar hele wêreld is swart en onverklaarbaar. Buite sien sy hoe die rooi-bruin water in dik, vet strome teen die berghange afstroom en ʼn pad deur Lurio vee. Alles lyk meteens gevaarlik en onseker. Dit het nog nooit so gereën nie, nie sedert sy hier aangekom het nie.
Op die vierde dag kom die onstellende nuus. Dit het niks met die sikloon of met die riviere of oorstromings te make nie. Die nuus is veel groter as dit. Skrikwekkend. Tabi tuur na die tekeninge van die graadeentjies teen die muur. Hulle het ʼn merkbare vordering sedert die eerste kwartaal getoon. Die reën dreun onophoudelik op die dak, maar dis asof hulle daaraan gewoond geraak het. Die kinders volg haar met groot, bang oë. Almal het die nuus gehoor. Tabi gaan staan voor die talle muurkaarte en tekeninge wat die klas opvrolik. Daar is die portret van die Mosambiekse president. Die land se vlag... Sy gaan staan voor een van die talle alfabetkaart wat vir die graadeentjies bedoel is. Dit is met goeie plastiek gelamineer om nog vir baie jare te hou.: "A" is vir "Angry". Die kunstenaar het sy bes probeer om dit te verbeeld deur ‘n kwaai gesig te teken. Gelukkig verstaan die kleintjies dit. "B" is vir "Bounce" en benewens die teks, is ‘n tekening van kinders wat ‘n bal vir mekaar gooi. "D" is vir "Drawing"... nee, "D" is vir dood, dink sy. Sy gaan leun met haar kop teen die muurkaart. "D" is vir dood. Dis ontstellend. Dit kan tog nie hier, sover weg van alles met hulle gebeur nie. En tog is dit al wat sy en die dorpie oor praat. Die eerste sterfte van mense besmet met die MII-virus het in Lioma en Mutuali, hul twee buurdorpe uitgebreek. Nou gaan niks hierdie gemuteerde verpestelike virus keer om ook by Lurio uit te kom nie. Dis net ‘n kwessie van tyd. Hulle het so gehoop hulle sal gespaar kon bly – net vir nog ʼn rukkie langer. Die dood is skielik vir Tabi net ʼn hoes en ʼn nies weg. Dis so verdoemend, so finaal. "S" is for "kissing".
Sy sal so gou die reën verby is, en die paaie weer begaanbaar is, alles oppak en die eerste geleentheid wat sy kry Maputo toe gaan. Of sy hier sterf of in Maputo... wat maak dit saak.
Here ons almal wil lewe. Dit kan mos nie.
"Juffrou, kan ons nie iewers wegkruip nie?" vra een van die groter kinders. Skielik begin Tabi saggies huil. Wat sal dit help, dink sy. Vir hulle is alles verby. Sy snuit haar neus en slaag daarin om beheer oor haar emosies te kry.
"Maar waar Bright, niemand sal êrens veilig wees nie. Niemand gaan dit oorleef nie..."
‘n Gekla en gekerm onderbreek haar sin. Haar emosies haal haar weer vinnig in. Sy kyk deur haar trane na haar polshorlosie. "Ek dink die skool moet vir die naweek maar sluit," kry sy met moeite uit. Anders as gewoonlik sou die kinders met so ‘n aankondiging die deur uit sy kosyne geloop het, maar hulle doen ‘n eienaardige ding. Een vir een kom hulle stadig by haar verbygestap en vat aan haar hand. Dis koue klein handjies wat haar bemoedigend druk asof hulle eensklaps rolle omgeruil het. Een vir een groet hulle haar. Een vir een stap die dood by haar verby. Toe is die klas meteens leeg.
‘n Koue vreemde gevoel kom oor haar. So sal dit eendag wees, almal sal weg wees. Sy staar na die leë klas. Moet alles tot ‘n einde kom? Waarom het sy groot geword, gestudeer en hier geland. Was alles dan verniet? Is die Usila al hoop wat hul het? Sy kan nie wag dat hierdie allemintige sikloon hom moet uitwoed nie. As dit maar net wil ophou reën.
Meteens hoor Tabi ‘n eienaardige gedreun bo die lawaai van die reën op die sinkplate. Dit klink so onderaards, so vreemd. Verwonderd loop sy na die venster en kyk deur die vallende reën na die dorpie. Dis nie ʼn voertuig nie. Dis iets anders... vreemd, iets wat sy nog nooit gehoor het nie. Goeie Here wat kan dit wees! Sy hoor stemme wat skril gil, en uit die hoekie van haar oog sien sy mense weghardloop. Vreesbevange storm sy na die deur maar sy is te laat. Meteens is dit donker om haar.
Tabi sien nie hoe die aanstormende modder wal teen die hange van die gewoonlik vreedsame Namuliberg met ʼn verbysterende spoed oor die skooltjie donder nie. ʼn Massiewe hoë wal modder vee soos met ʼn reuse hand alles wat voor hom kom uit die pad uit. Die mure verkrummel in ʼn oogwink, en spat uitmekaar. Die dak vlieg soos ʼn stukkie papier deur die lug waar dit deur die modder wal meegesleur word. Weg. Weg. Die huise disintegreer. In ʼn oogwink is die modderstroom oor die skooltjie en oor die dorpie. Van Lurio bly eensklaps niks meer oor nie.
Hoofstuk 1
"Wat is ʼn vroumens, Vader?" het Roe hom eendag met groot, oop vraende oë gevra. Ab onthou die dag nog goed. Hy was vir ʼn oomblik uit die veld geslaan. Wêreld tog, het hy gedink, die knapie is maar skaars sewe jaar oud en hy weet al klaar van hierdie dinge af. Wie op aarde sou hom dít vertel het? Dis taboe-sake vir iemand van sy ouderdom. Ai toggie, het hy kwellend gedink en oor sy gesig gevryf. Ja, sy boek het die hele Azila aan die dink gehad en dit moes selfs by die kinders uitgekom. Hy het egter versigtig geantwoord.
“Dit moet jy vir jou Pater vra. Hy sal weet. Ek dink dis sy afdeling, ek het my eie mening daaroor... in elk geval, jy is nie veronderstel om te weet wat dit is nie... nie nou al nie, hoe sal ek sê...” Dit het gelyk of Roe hom nie mooi begryp het nie en hom in die rede geval.
"Maar wat is dit! En Afwykendes, wie is hulle!" Hy was byna histeries soos hy dit uitgeroep het. "Vroumense! Afwykendes! Hoekom sien ons hulle nooit nie. Wat is dit?"
Die klein niksnut gaan hom nie vertel wat om te doen of met sy gevoelens speel nie. Hy het vinnig die onderwerp probeer verander. "Waar was julle die hele dag?, by die kranse alweer? Ek kan dit aan julle gesigte sien. Die son het julle rooi gebrand." Ab het die spul seuns kwaai oog aangegluur. "Julle weet hoe gevaarlik dit daar is. Sê maar een van julle foeter daar af? Toe, kry julle loop, weg is julle. Roe, jy en Lan bly hier." Ab se woorde was nog skaars koud of die verskrikte klomp jong seuns het in al vier die windrigtings verdwyn.
Dit sal hulle op hul plek sit, het Ab tevrede gedink en begin aanstap. Hierdie nonsens om my te kom vra wat vroumense en Afwykendes is, was net ʼn manier om my aandag van hulle kattekwaad af weg te lei, het hy binnemonds gemompel. “Julle is nog nie oud genoeg om op julle eie na die kranse te gaan nie. Ek weet dis baie mooi daar en die uitsig asemrowend, maar bly daar weg!"
Roe het net instemmend geknik en belowe om nie weer te gaan nie.
Dit was eers toe die tweeling opgeskote seuns was, dat hulle Ab die waarheid omtrent daardie dag vertel het. Niemand sou dit waag om hom werklik te vertel waar hulle was nie, het Roe sy verhaal destyds begin. Laat sy vader maar dink hulle was by die kranse by die see. Hulle was egter oppad na Dawre, die vroue stad! Dit was suid van Beith in die valleie Dit mag Ab nooit geweet het nie – nie toe al nie. Geen man mag weet hulle as kinders was daarheen oppad nie Dis te gevaarlik. Mans mag wel gaan, maar nie jong knape so oud soos hulle nie. Dit was Ry wat met die idee gekom het, het Roe aan Ab vertel.
“Ons moet gaan kyk hoe lyk hulle. Kom ons almal gaan Drawe toe.” Soos een man het hulle ingestem ten spyte van die groot gevaar wat dit mag inhou. Sluip-sluip het hulle die pad gevat. Hulle kon nie reguit daarheen gaan nie, maar moes deur bosse en woude met ompaaie loop. Dit het hulle spoed vertraag en omdat Drawe so ver was het hulle dit die dag nooit gemaak nie, maar moes omdraai omdat dit so laat geword het. Op pad het Ry ʼn klomp ding oor die vroue kwytgeraak. Iemand het hom dit alles vertel, maar hy wou nie sê wie nie. Vroue is blykbaar mense wat net soos hulle lyk maar afskuwelik lelik en gevaarlik. As hulle ʼn seun vang maak hulle hom net daar op die plek dood. Ry het ook gesê hy het gehoor dat alle kinders van die vroumense afkom, maar dis wat hom gepla het, hoe het hy dan die feit verklaar dat hulle mense is wat seuns doodmaak. Daarby het Ry gesê dat as hulle ʼn kind in die wêreld bring, swel hul mae op en dan is hulle eers gevaarlik. Hy kon nie veel sê oor Afwykendes, want daarvan het hy niks geweet, behalwe dat dit mans is wat iets met vroue te doen het.
Roe was so gefassineer deur Ry se storie dat hy dit nie kon help om gedurig daaroor te dink nie. Dis waarom hy daardie dag dit toe weer gewaag om sy vader te konfronteer.
"Vader, is dit so dat vroumense enige man wat hulle teë kom, doodmaak." Ab het vir ʼn oomblik gaan stil staan.
"Wie vertel jou sulke onsin? Toe, basta daarmee. Ek het klaar gepraat. Los dit nou, dis grootmens sake. Dis nie vir kinders se ore bedoel nie. Eendag as julle groot is, sal ons julle meer vertel. Vergeet dit nou. Ek wil dit nie meer hoor nie." Ab onthou hoe hy toe nog afgebuk het en sy twee seuns met sy sterk arms vas gehou het. "Is ons nou kaar met die stories?" het hy selftevrede gevra.
“Maar vader het tog in u boek gesê mans...”
“Julle is nog te klein!” het hy hom bitsig die rede geval en daarmee was dit klaar.
Die tweeling het hul koppe geskud, maar dit was met die ongeërgdheid van ʼn kind wat hulle nie veel aan vermanings steur nie. Môre, op ʼn ander dag sou hulle weer dieselfde vrae stel. Dis soos ʼn kind maar is, en dit het Ab geweet. Per slot van rekening, hy was ook eenmaal jonk.
Ab staan op en staar na die weste. Ver weg is die son besig om laag te hang, daar anderkant die lae heuwels in die weste, agter die horison. Daar waar die see is, ver weg van Beith. Vroumense, Afwykendes, wonder Ab. Die seuns sou die een of die ander tyd dié soort dinge wou weet. Hy dink ʼn oomblik na aan sy eerste en enigste ontmoeting met die vroumense van Drawe. Dit was jare gelede toe hy en Nana besluit het om met ʼn gesin te begin. Hulle moes vir ʼn paar dae na Drawe gaan vir dié onaangename saak. Dit was gelukkig nie ʼn lang reis nie. Oral op pad het hulle ander Vaders en Paters teë gekom wat ook met ʼn gesin wou begin of wat klaar by Drawe was. Dié wat teruggekom het, het vertel dat dit nie te erg was nie. Die vroue is nie té onvriendelik, en in sommige gevalle is die ouers heel hartlik verwelkom.
Die vrouens was almal van kop tot tone heeltemal bedek met lang mantels van vrolike, bont kleure en sagte materiaal. Net hulle oë het uitgesteek. Nóg Ab nóg Nana kon sê of hulle afskuwelik was. Die bietjie wat hulle gesien het, het heel beskaaf en aanvaarbaar gelyk. Hulle het ook nêrens ʼn vrou met ʼn opgeswelde maag soos ʼn dier gesien nie.
Ab en Nana se ontvangs was vriendelik. Nadat hulle geregistreer het, is ʼn luukse kamer aan hul toegewys. Al die vroumense met wie hulle te doen gehad het, was heel gaaf en het hulle gou op hulle gemak gestel. Die hele proses van natuurlike bevrugting is aan hulle stap-vir-stap verduidelik. Dit was toe vir hom opvallend dat vroue eienaardige geklink het as hul gepraat het. Ab en Nana se saad is toe opgevang wat hulle so gou moontlik aan die toesighoudende vrou moes gee. Die toesighoudende vrou het vertel dat dit dadelik met ʼn fyn glasbuisie in ʼn Moeder of Mater se baarmoeder ingeplant word, deur dit daarin stadig in te blaas. Nóg Ab nóg Nana het die vaagste idee gehad waarvan die vrou praat, maar geglo sy weet wat sy doen. Vir drie dae moes hulle die proses herhaal en kon hulle daarna huis toe gaan.
Ab en Nana is versekere dat daar van die hele proses noukeurig boekgehou word sodat elke manlike ouer presies sal weet wie hulle kind is, sodra dié later gebore sou word. Dit het gewoonlik in die omgewing van nege vol mane geneem voordat ʼn paartjie moes terugkeer om die baba te gaan haal. Ab en Nana was baie gelukkig, maar Ab nog meer. Nie alleen was dit tweelingseuns nie, maar dit was twee seuns gebore van Ab se skenking omdat hulle die naaste aan hom gelyk het toe hul groter geword het. Ander paartjies is meer ongelukkig. Sodra dit ʼn dogtertjie is, word hulle daarvan verwittig en bly dié kind by die Moeder en Mater. Sodanig ouers moet dan weer probeer totdat ʼn seun hul beskore is.
Na die geboorte is dit die groot grootmaakproses wat veral op die Pater wag, maar met Nana se onverwagse dood na die tweeling se geboort, weens ʼn verskriklike longontsteking moes Ab die twee seuns self groot gemaak het.
Jare gelede, eintlik was dit baie geslagte gelede, niemand weet meer presies hoe lank nie, was die mensdom nog nie so verfyn en beskaaf nie, en het die mans en vroumense in ʼn stadium saamgewoon. Dit was voor die gevreesde Siekte sy ontstaan gehad, en toe hulle volgens ʼn welbekende legende in ʼn kontinent ten noorde van Azila gewoon het. Die hele mensdom is as gevolg van die siekte byna uitgewis. Dit het sy ontstaan gehad juis deur die geslagsgemeenskap tussen mans en vrouens – hoe ondenkbaar dit vandag natuurlik is. Dit was om die rede dat die twee geslagte nou reeds vir eons van mekaar geskei is in ʼn poging om te verhinder dat die mensdom totaal uitgewis sou word.
Toe die Siekte op sy hoogtepunt was het hulle oor die oseaan na ʼn veiliger bestemming gevlug en so het Azila sy ontstaan gehad. Die geslagte is toe van daardie tyd af vir ewig van mekaar geskei... En tog is dit nie die hele verhaal nie. Daar is nog sekere afwykende mense, die Afwykendes wat Roe so gepla het toe hy nog bogsnuiter was, wat die wet oortree. In die droë noordelike streke van Azila is daar groepe mense van verskillende geslagte wat saamwoon. Hulle het nie soos die res van Azila geskei nie. Moontlik was dit oorlewendes wat van die dooie Noordelike Kontinent afgekom het, niemand weet nie... die Siekte moes almal uitgewis het. Hoe kan die mense so onverantwoordelik wees? Besef hulle nie wat hul doen nie? Hoe is dit in elk geval dat mans en vrouens ooit kan meng, wat nog van saambly! Ad skud sy kop in verontwaarding. Dit is in vandag se moderne tyd haas ondenkbaar, maar so is baie dinge vandag ondenkbaar as dit met die ou gebruike en gewoontes van die mens deur al die eeue heen, vergelyk word. Ab sug hardop. Ja, die mens het ʼn lang ontwikkelingspad geloop. Met afgryse dink hy daaraan hoe dit moet wees as mans saam met vrouens lewe. Dit is onbegryplik!
Die laat middagson bak die stad met sy laaste bietjie krag warm. Vir ʼn oomblik wonder Ab wat lê aan die ander kant van die see. Niemand weet nie. Nog see...? Dit word vertel dat ʼn klompie seevaarders die kus van Azila noordwaarts verken het, juis opsoek na die Noordelike Kontinent. Hulle het in ʼn storm verdwaal, en op die kus van die sogenaamde Vasteland uitgespoel. Dit was ʼn barre, ondeurdringbare woestyn, soortgelyk aan die noorderlike een van Azila waar geen lewe moontlik is nie – behalwe vir die Afwykendes wat daar woon. Die seevaarders het byna van ontbering en honger omgekom, maar kon darem daarin slaag om hul boot weer van die strand met ʼn besondere hoë gety wat ingekom het, af te sleep en die tog huis toe aangepak. Dat hulle voorvaders dus van hierdie kontinent afkom, soos die legendes dit wil hê, en dit wat die seevaarders vertel het laat ʼn man wonder, dog vir Ab is dit alles net hoor-sê. Vir sy kritiese, ontledende verstand is dit net ʼn legende. Eendag sal hulle seker weet wat die waarheid is. Of die land werklik daar is, of dit die kontinent is waar hul voorvaders vandaan kom – moet eers bewys word. Dan sal hy dit glo. Maar niemand het die moed en ondernemingsgees om weer so ʼn tog aan te pak nie. Geen boot of skuit waag dit verder as die horison nie. Solank land in sig is, is dit veilig maar daarna kan ʼn man van koers af raak, net om in die oneindige groot oseaan om te kom. Niemand wat so agter die horison verdwaal het, het ooit weer Azila lewendig gehaal nie.
Aan die anderkant, as die sogenaamde legendariese Noordelike Kontinent daar is, is dit ʼn woestynland, waar niemand kan leef nie. Sy logika sê vir hom dis nie moontlik nie. Die hele aarde is soos hulle dit ken. Dis die oneindige groot oseaan met Azila as die enigste vasteland. Ten suide van Azila is net see. Ten weste, waar die kinders so gereeld gaan speel het, is net see, en so ook ten ooste van hulle, net see, onmeetbaar wyd en groot.
Die strate van Beith is nou en teen dié tyd wat Ab in hulle af staar, reeds donker. Dit stink en solank as wat die reën wegbly, moet hulle maar die stank verdra. Die geboue aan weerskant van die strate toring ʼn paar verdiepings die hemel in. Oral is mans en trekdiere besig om die woelige strate nog meer ontoeganklik te maak. Dit lawaai soos elkeen probeer om vir hom ʼn pad oop te veg. Die mans moet koes-koes stap om nie in die straatgemors te trap nie. Hierdie stad maak ʼn mens gek, dink Ab, maar aan die ander kant het hy so lief vir die daaglikse onophoudelike gewoel en gewerkskaf geword. Hy het hier in Beith groot geword. Hy ken geen ander plek nie. Het hy nie ook as jong seun in die strate rondgehardloop asof die hele stad aan hom behoort het nie. Vir ʼn oomblik wonder hy hoe die vroumense se stad, Drawe is. Hy was met hul seuns se geboorte net by die gebou wat aan die rand van die groot stadsmure was. Hoe dit daar binne lyk weet niemand nie, en niemand word daar toegelaat en niemand het ook die behoefte om daarheen te gaan nie.
Meteens is daar ʼn klop aan die voordeur. Vir ʼn oomblik dink Ab dis die twee seuns, maar hy hoor geen stemme nie. Hulle is gewoonlik so luidrugtig dat dit nie hulle kan wees nie. Net toe hy dit wou gaan oopmaak, gaan die deur oop en Usta kom binnegestap
"Goeie dag, Ab," groet Usta hom smalend. "Enige nuus uit die wêreld van ʼn denker?" vra hy sarkasties. Ab grom net en groet nie. Die sluwe Usta met sy slinksheid dink Ab en kyk hom skerp aan.
Sy growwe skril stemmetjie sny deur die lug. Hy stoot die deur ongenooid verder oop en gaan val op ʼn stoel soos ʼn hoop modder. Hy gee ʼn sieklaggie.
Roe kyk afkeurend na hom.
Nog ʼn grasvreter wat sy snoet in die trog kom steek. Wat's jou saak, Usta? Wat kom steur jy my hier? Jy het niks hier verloor nie," sê Roe vol bravade. Vir Roe is Usta ‘n niks anders as ʼn siek skurk nie. Hy het die persoonlikheid van ʼn reguit pad wat deur een van Beith se krotbuurtes loop. Niks anders as ʼn onverdraagsame idioot nie. Usta is uiters geamuseerd. Om sy mond hang ʼn sarkastiese uitdrukking. Hy weet hy het alle mag in Beith om basies te maak wat hy wil, met wie hy wil – ook met die gesiene Ab.
"Wat bring jou na die deel van die stad, Usta? Kom jy weer moeilikheid stook?"
"Mm, dis julle ou manne wat dink julle is te slim. Julle wat allerhande dingetjies sit en uitdink en die tipe snert vir die arme burgers verkoop."
"Kom, laat ons nou nie oor beuselagtighede stry nie. Wat bring jou hier?" vra hy weer. Usta is hoof van Stadsveiligheid. Hy’s deeglik, let op na elke detail, sy oog ontgaan niks nie – alles dinge wat hom meer gevaarlik maak as wat hy lyk. Almal weet dat elkeen van wie hy nie hou nie laat hy summier opsluit. Die groot antagonis wat almal se lewe versuur, die liewe Usta, dink Ab en voel klaar hoe die woede in hom opwel.
Usta glo Ab is een van die “samesweerders” by die School of Learning wat besig is om die Stadsregering se gesag te ondermyn. Dit het alles begin met sy velle kritiek op die stadsoligargie in sy boek wat toe verban is en hy byna opgesluit is. Die mens se reg tot vryheid, vryheid van spraak en medeseggenskap in die regering van Beith is basies mansregte wat hy bepleit het. Die boek getitel, “‘n Man se reg” het almal se aandag getrek en die Stadsregering woedend gelaat. Ab moes sy boek ontrek en oral is dit verbrand waar Veiligheid dit ook gevind het. Van toe af het Veiligheid se agente elke beweging van Ab dopgehou. Hy het daarna dit gewaag om nog soortgelyke boekrolle opgestel waarvoor hy ook voor stok gekry is, maar dit was nie so erg soos sy eerste boek nie. In een van sy boekrolle het hy wel sy idee van mansvryheid as basiese begin van die lewe so ver geneem dat hy vrye assosiasie met selfs vroue as voorbeeld uitgewys. Nie dat hy dit as ʼn voldonge feit sou steun nie, maar in beginsel het dit by alle mansregte aangesluit ter illustrasie. Wat hy geglo het was reg en dit was onblusbaar. Dis waar Usta se haat vir hom ontwikkel het.
"Ek sien SOL se Uitvoerende Raad wil jou sien," sê Usta uit die hoogte.
“So, Stadsveiligheid lees my briewe...” kry Ab dit reg om te sê maar klink baie onseker en is dadelik kwaad dat Usta so met sy gevoelens kan speel, maar gaan dan voort, dog voltooi nie die sin nie. "Stook jy weer onrus..."
Ongeërg trek Usta sy skouers op. "Wonder wie’s die opstoker. Dit moet jy maar vir jouself afvra. Terloops, wat voer die Uitvoerende Raad in die mou, jy moet tog weet. Wat beplan julle, ʼn opstand met Ab die ringkop, of pleit jy weer dat ons Afwykendes moet word.?" Hy skreef sy oë, asof hy Ab beter wil sien. Dis soos Usta sy feite verdraai. Hy het nooit so iets gesê nie, maar dit net as voorbeeld uitgewys.
"Hoe sal ek weet, jy’s die een wat my briewe lees. Jy behoort die goed te weet, dis jou werk. Ek’s net ʼn wetenskaplike,” sê Ab half sarkasties.
“Ek waarsku jou, gaan voort met al jou nonsens en ondermynende bedrywighede en jy sal sien waar dit jou sal uitbring – onder die kluite!” Usta sien Ab dink dis ʼn speletjie, ʼn grap, maar as hy met hom klaar is sal hy wil sien wie lag die laaste. Hy staan op en stap na die deur. "Tot môre. Ek sal beslis daar wees." Hy sê dit met dodelike erns. Hy maak nie die deur toe nie toe hy uitstap.
"Arrogante stuk gemors, nikswerd sot," sê Ab hardop. "Jou dag sal nog kom, Usta!" Hy staar lank na die oop deur. Die SOL is met baie idees van hom aan sy kant, dog hulle is bang om hom soms openlik te steun. Nou goed, as die Uitvoerende Raad hom wil sien, sal hy maar gaan hoor wat hulle te sê het. Dit kan nie te ernstig wees nie, dink hy, maar byt terselfdertyd sy onderlip – dit kwel hom tog.
Die deur word met eens toegeklap, kort nadat Usta weg is. Ab wip soos hy skrik. Roe en Lat kom by die deur ingebars. Hulle groet vlugtig terwyl Lat dadelik begin kosmaak. Kort voor lank is daar ʼn aangename aroma in die lug. Dit help baie om ʼn knap seun soos Lan in die huis te hê, maar hoe mis hy nie soms Nana se kos nie? ʼn Huis sonder ʼn Pater is maar ʼn leë, hol bestaan, dink Ab. As sy twee seuns elk maar net eendag gelukkig kan wees en Paters kan kry soos hulle s’n, sal die hele wêreld reg wees. Lan het wel een of twee keer met ʼn vriend by die huis aangekom en ewe verlief hande vasgehou, maar dit is nog jong onskuldige liefde. Dis Roe wat nog niks van die ding laat blyk het wat hom soms bekommerd maak, maar dan redeneer hy dit weg dat Roe nog jonk is en tyd nodig het.
Ab gaan sit op een van die houtstoele by die tafel. Dit was ʼn geskenk wat hy van sy ouers ontvang het die dag toe hy en Nana afgehaak het en besluit het om te trou. Dit voel soos ʼn ewigheid gelede. Hy strek sy lang stewige liggaam uit. Hy is effens aan die lang kant, so net oor die 16 hande hoog. Daarby is hy goed gebou, hoewel sy maag groter is as wat hy dit op sy vyf-en-dertigste jaar wou gehad het. Hy is goed in sy middeljare, maar lyk nie so oud soos ander van sy tydgenote nie. Sy kop is bles tog is hy aantreklik en het lang styl hare wat teen sy nek afhang en op sy skouers omkrul. Soos sy seuns is sy oë blou, maar nie so diepblou soos hulle s’n nie, effens valer. Sy neus is nie prominent nie en ook nie sy ken nie. Sy gesigslyne is hard en kan onvriendelik lyk, tog is hy meestal gaaf en goed met almal wat hom ken. Hy's baie uitvarend, en as hy by ʼn standpunt is gaan niks hom daarvan laat afsien nie
Ab staar na die hope papier en boekrolle wat oor die tafel gestrooi lê en trek een nader. "Mensig, Roe, steek vir my die olierig aan, ek kan niks sien nie," vra Ab hard, dog hy kry geen reaksie nie. Onthuts kyk hy om en sien dat Lan skaars geëet het en net so op die bed aan die slaap geraak het. Is dit al so laat? Dit moes ʼn lang dag vir hulle in die stad gewees het. Hy wink Roe nader om die lampie aan te steek.
"So ja, dis beter, dankie." Dis hoog somer en die son gaan eers laat sak. Dit is dan wanneer ʼn mens jou met die tyd misgis. Die nagte is kort en die dae oneindig lank. "Usta was vanmiddag hier, net voordat julle ingekom het," sê Ab na ʼn rukkie.
"Wat wil hy hê, vader?" vra Roe belangstellend.
"Wens ek het presies geweet. Die Raad het môre ʼn sitting en ek moet voor hulle gaan verskyn, as ek die boodskap reg verstaan."
"Dis eienaardig. Dit gebeur tog net in uitsonderlike gevalle."
"Ek weet," sê hy kortaf en gaan dan verder. "Ek kan bly wees die nie weer Veiligheid wat my wil sien nie."
"Dan kan die saak seker nie so ernstig wees nie?" vra Roe bekommerd.
"Met Usta iewers ingedrang, is enigiets moontlik." Roe vry sy kop maar antwoord nie. Hy gaan peinsend voort om te eet. Daarna trek Ab hom terug in sy skryfhoekie. Hy rol ʼn paar van sy boekrolle oop en bestudeer dit vir ʼn rukkie. Sy uitlatings is opspraakwekkend en dit is duidelik in dit wat hy daar voor hom lees wat hy lank terug geskryf het dat Veiligheid nie gediend is met sy uitsprake nie. Meer vryheid, groter seggenskap, geen willekeurige dansery na die pype van die ou despote nie. Gaan hulle hom van sy pos onthef oor dié opruiende briewe – veral die laaste een waarmee hy die spot dryf met die oligargie. Dit is die goed wat Usta en die Stadsregering hoogs ontstoke maak. Die goed wat gemaak het dat hulle hom wou opgesluit, maar as gesiene wetenskaplike van Beith, dit op die nippertjie laat vaar het, hoewel hy ‘n paar dae in die gevreesde Dawin tronk moes deurbring.. Dit het Usta net meer woedend gemaak en hom meer vasberade gemaak om Ab vir eens en vir altyd te laat toesluit sodat hy nie weer met sy geskrifte oproer kan stook nie. Miskien is dít waaroor die Raad hom wil sien - berispe dat hy ‘n verleentheid vir die SOL is, dat hy daarmee moet ophou. Dit kan enigiets wees. Maar, as die Raad nie daarvan hou nie, het hy vrede met hulle. Effens onrustig stoot hy die rolle eenkant. Dit kan ‘n interessante dag môre word.
Die School of Learning se Uitvoerende Raad sit soos gewoonlik in die ry hoë banke. Dit voel vir Ab asof hy ‘n vertrek vol laksmanne tegemoet gaan. Die saal het aan weerskant rye banke en laat Ab eerder dink aan die teater as wat dit die SOL se groot trots is. Sy rug kriewel van onsekerheid. Iemand bied hom ‘n stoel aan. Dis hard maar hy hoop hulle sal nie lank besig wees nie. Usta sit nie in die voorste ry by die groot geleerdes nie, maar net agter hulle omring deur ‘n spul van sy amptenare. Die inhalige agterbakse skepsel wat vir niks goeds geskape is nie. Ab sien ‘n paar van sy kollegas sowel as lede van ander fakulteite. Dit laat sy oë rek. Die brief het net gesê dat hulle om graag wil sien. Niks verder nie.
Is Usta net hier om hom in hegtenis te neem? Is dit waarvoor hy die hele tyd gevrees het, wat nou gaan gebeur? Is dit sy diepste vrese waaroor hy nie ‘n oog kon toemaak nie? ‘n Roerende wanhoop pak om hom saam. Het sy hele lewe onafwendbaar afgestorm tot hierdie veraderlike oomblik? Gespanne wag hy dat die eerste sarsie pyle afgeskiet word.
Die voorsitter van die SOL se Uitvoerende Raad, Nam is baie beleef dog ernstig toe hy begin. Dit laat Ab dadelik ontspan, maar nie heeltemal nie omdat hy nie die vrede vertrou nie. Anders as hy verwag het, omdat hy hom so oor die saak opgewen het, is daar geen vyandigheid in Nam se stem te bespeur nie.
"Ons hoop nie u was ontsteld toe ons u dringend versoek het om ons te sien nie," sê hy sonder emosie. Ab skud sy kop liggies.
"Dis goed so, want eintlik is dit ‘n groot saak wat ons vanoggend met u wil bespreek. Iets ongehoords het opgekom. Iets so vreemd dat elkeen van ons wat daarmee te doen het, sy eie idee het." Ab luister ingedagte terwyl Nam voort rammel. Hy is meteens so geprikkel dat hy nie kan wag dat Nam tot ‘n punt moet kom nie. So, dis glad nie iets te doen met sy werk en sy opvattings nie, dink hy verlig. Dis ‘n heel ander saak. Demit, kon hulle dit nie in die brief gesê het nie. Maar wag, miskien moet hy nie te gou ontspan nie. Daar is moontlik iets hieragter, iets onheilspellend.
"Miskien moet ek u kortliks inlig oor wat gebeur het," sê Nam met ‘n duidelike stem wat tot in elke hoekie van die groot saal gehoor kan word. "‘n Dag of twee gelede het ek iets ontvang, en ek sal later vir u vertel wat dit is, wat die Fakulteit wil hê ons moet ondersoek." Onseker wonder Ab waar hy in die prentjie pas, maar kyk stip na die voorsitter wat demonstratief beduie soos iemand wat probeer vlieg.
"Ek kan nie kop of stert uit maak van die voorwerp nie, maar omdat u een van ons meer bekwame wetenskaplikes is, indien nie die beste in Beith nie, het ek en my senior kollegas lank oor die saak nagedink voordat ons op u naam besluit het. ‘n Tydjie gelede het ‘n reisiger oppad van Dala af hier aangekom wat my ‘n eienaardige stuk klip gegee het. Hy beweer dat sy kinders dit naby ‘n rivier iewers in die ooste van Azila gevind het. Die klip het ‘n eienaardige vorm... sommige sê dis ‘n voorwerp terwyl ek en die ander sê dis bloot ‘n klip met ‘n eienaardige vorm. Ons het dit goed geag dat u die saak vir ons verder soek. Die Stadsregering sal ‘n antwoord wil hê - .” Daar is ‘n oomblik se stilte na Nam se lang relaas en toe haal hy die veelbesproke klip te voorskyn. Die ander kyk swygsaam na hom. Nam wink iemand nader wat die klip by hom vat en dit aan Ab oorhandig.
Versigtig asof dit kan breek, vat Ab dit en draai dit ‘n paar maal in die rondte. Mm, dis waaroor die dispuut is, dink hy toe hy die byna silindriese vorm op die klip uitmaak. Ja, dit kan enig iets wees. Moontlik wel ‘n voorwerp, hoewel hy twyfel want dit was hy vashou is net ‘n klip. Hy het al gehoor dat daar sodanige klippe opgetel is, maar nog nooit een self gesien nie. Ook nooit gedink daar sal ‘n bohaai oor so-iets wees nie.
Ab skud ingedagte sy kop. Die water en die wind moes dit so weggevreet en gevorm het. Hy kan aan niks anders dink nie. Waarom ag hulle dit so belangrik. Toe hy na ‘n rukkie opkyk sien hy die teleurstelling op sommige van die raadslede se gesigte. "Ek is jammer," sê Ab met sy duidelike, effens draende diep stem. "Dis wat dit is, ‘n klip." Daar gaan ‘n rimpeling deur die saal.
"Wel, dis wat ons ook reken, maar soos jy kan hoor is almal nie tevrede met so ‘n verduideliking nie." Nam gaan dan voort. "Ek is bang ons sien goed daarin raak wat nie daar is nie. Ek's bevrees ons sal groter akademiese dissipline aan die dag moet lê," sê hy half pedanties.
"So, wat is dit wat u van my wil hê," vra Ab sonder om hom veel aan Raads etiek en protokol te steur.
"Om eens en vir altyd seker te maak ons weet wat hierdie klip is, wat dit beteken!”
Hoofstuk 2
Die vure brand hoog en vrolik. Ten spyte van die feit dat dit hoog somer is, is dit koeler hier teen die hange van die hoë berg. Groot ysterpotte hang oor die vuur waarin aandete voorberei word. Ab en sy twee seuns is gulhartig deur die inwoners van die klein gehuggie naby die groot rivier ontvang. Die SOL se Uitvoerende Raad het nie geweet dat daar naby die plek waar die klip-fonds gemaak is, ‘n dorpie, eintlik ‘n gehuggie is nie. Die mans van Ist is ‘n vrolike klomp ten spyte van hul redelike armoedige en primitiewe bestaan. Hulle was dus gretig om teen betaling vir Ab te werk.
Die klip wat die reisiger van Dala ontdek het, het Nam sorgvuldig in sy lesinglokaal se kas toegesluit. Ab het, voordat hy vertrek ‘n paar keer weer die klip bestudeer. Soos met die vorige keer toe hy dit gesien het, het dit vir hom eenvoudig niks beteken nie. Hy het nie ‘n idee waarna hy moet soek nie. Die ou siel wat die klip opgetel het se verbeelding moes net so groot soos dié van die spul by die SOL ‘n gewees het. Hoe op aarde gaan hy weet waar om te soek en waarna om te kyk?
‘n Hele ent van hulle af, het die gids verduidelik, is die vroue-dorpie, Wyke waarheen die mans van Ist gaan om kinders te kry. Gelukkig het hulle geen vrouedorp oppad teen gekom nie. Die gids het hom versekere dat daar oral sulke dorpe is, maar hulle is goed afgesonder en beskerm. Die kans dat hulle in so ‘n dorpie sou vasloop was dus skraal.